JavaScript is required for this website to work.
post

Afrikaans op de helling in Zuid-Afrika

Onderzoeker schrijft vlammende 'Ope brief' uit protest tegen de achteruitstelling van het Afrikaans

Heinrich Matthee15/3/2016Leestijd 4 minuten

‘Ek kan my ook nie vereenselwig met die benadeling en verontregting van ’n gevestigde Afrikataal soos Afrikaans en sy sprekers nie.’

Aangeboden door de abonnees van Doorbraak

Dit gratis artikel wordt u aangeboden door onze betalende abonnees. Als abonnee kan u ook alle plus-artikelen lezen. Doorbreek de bubbel vanaf €4.99/maand.

Ik neem ook een abonnement

Ope brief aan Jonathan Jansen: Bedanking as navorsingsgenoot

Amsterdam, 13 Maart 2016

Geagte prof Jansen

Bedanking as navorsingsgenoot

Ek werk en woon in Nederland as politieke ontleder vir bedrywe en as akademikus. Tans is ek onder meer ’n navorsingsgenoot by die Universiteit van Amsterdam en by die Universiteit van die Vrystaat.

Die meeste van my werk in die buiteland is in Nederlands of Engels. Die Universiteit van die Vrystaat se vorige taalbeleid het beteken dat ek graag die klein deel van my akademiese navorsing wat in Afrikaans is, daaraan wou koppel.

Ek was dus besig om stukke wat ek verlede jaar kon plaas, by die Al-Jazeera Centre for Studies of by die Nederlandse Gasunie by te werk vir moontlike publikasie in Afrikaans. Ek het intussen ook in beleidspublikasies in Engels my band met die Universiteit van die Vrystaat gemeld, die laaste keer in die South African Monitor se “Zuma’s hybrid regime, the economy and sustainable communities” (2015).

Die nuwe taalbeleid wat op 11 Maart 2016 goedgekeur is, maak nou Engels die hooftaal van opvoeding en administrasie, en skaal Afrikaans se posisie af. Ek kan my nie vereenselwig met hierdie voorbeeld van politieke onderdanigheid deur ’n universiteit wat akademiese outonomie behoort te handhaaf nie. Ek kan my ook nie vereenselwig met die benadeling en verontregting van ’n gevestigde Afrikataal soos Afrikaans en sy sprekers nie.

Ek bedank hiermee as navorsingsgenoot by die Universiteit van die Vrystaat. Ek stop hiermee ook met enige navorsingsuitsette of bemarking ten bate van Universiteit van die Vrystaat. Dit is ongelukkig die sterkste manier om my afkeuring van hierdie beleid te toon.

Politieke agterryers

Die nuwe taalbeleid is ’n duidelike voetval voor die eenpartydominante politiek van die dag. Akademiese outonomie en ’n klem op goeie opvoeding en navorsing moes hier almal tweede viool speel. Enigeen wat in akademiese instellings werk, weet dat die effek van groepsdruk, kantoorpolitiek, selfsensuur en hernude politieke inmenging dan akademiese vryheid verder sal uithol. Van akademiese outonomie op tweede viool is dit ’n kortpad na akademiese gehalte op die tweede rang.

Die uitbou van akademiese outonomie by universiteite en die opbou van ’n Afrikataal tot akademiese taal is in die meeste Afrikalande seldsaam, indien nie afwesig nie. Beide hierdie seldsame prestasies in Suid-Afrika word deur die nuwe taalbeleid eenvoudig weggedruk. Wat sal in die plek daarvan kom?

Kulturele en taaldiskriminasie

Benewens my hoofbeswaar is daar uiteraard ook andere: die taalbeleid sal jong Afrikaanssprekende studente en akademici benadeel. Hulle grondwetlike reg op opvoeding in hul moedertaal, gelees binne die konteks van artikels 29 tot 31 van die Grondwet, word aangetas.

Die kultuurdomein waaruit die Universiteit van die Vrystaat oor jare van sy beste akademici en bydraes ontvang het, word na die hoek geskuif. Mens kom by kongresse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, of LitNet Akademies uitstekende navorsing teë. Die universiteit moes dit gekoester het, maar het verkies om die water na daardie voedingsbodem geleidelik af te sny.

Die medepligtigheid van sommige Afrikaanssprekende akademici aan hierdie aantasting is iets wat hulle voor ernstige gewetenskwessies stel. In die naam van veeltaligheid word een taal, Engels, tot hooftaal verhef, ook al beteken dit dat die meerderheid studente die voordele van moedertaalopvoeding moet ontbeer.

Die hele gees van die taalbeleid weerspreek goedgedokumenteerde internasionale beste praktyke en regte rondom diversiteit en moedertaalopvoeding by universiteite. Onder die vaandel van brugbou verswak dit die een bewese akademiese brug tussen Afrika en Wes-Europa, naamlik die brug van Afrikaans.

Ek sou kon byvoeg oor Afrikaanse filosowe wat in Nederland in hul moedertaal gewoon die gesprek met Nederlandse filosowe in ’n vereniging kon voortsit. Ek sou kon verwys na seminare by die Universiteit van Leuven in Vlaandere oor politiek en die sakelewe, waar al die verrigtinge in Nederlands en Afrikaans kon plaasvind. Of na die bande van kuns en kultuur.

Na akademiese agterryers?

Maar dan: die hoofoorwegings by hierdie beleid was nie gekoppel aan akademiese vryheid en gehalte, pedagogiese wysheid of kulturele waardering nie; hulle was polities gedrewe. Met ’n blik op die toekoms kan mens eintlik die Free laat verval en maar bly by State University.

Suid-Afrika se eenparty-oorheerste staat word egter nie gekenmerk deur ’n respek vir pluralisme nie, hetsy polities of akademies. Sien my bogenoemde Zuma-studie, en onlangse artikels hieroor deur Theuns Eloff en André Duvenhage op LitNet. Die regering se rekord oor skoon administrasie of dienslewering raak verbysterend sleg.

By so ’n State University wat oop is vir politieke inmenging stry dan later enkele eilande van uitnemendheid voort; telkens ontstaan egter weer spreidende moerasse van laer gehalte en ’n broeierige kampuskultuur. Daaruit word weer allerlei nie-akademiese verskynsels gebore.

Buitelandse akademici ken ongelukkig talle soortgelyke voorbeelde in Afrika. Dalk ontwikkel die toekoms anders, maar dit lyk tans na die waarskynlikste toekomsscenario vir die Universiteit van die Vrystaat. Tot onnodige nadeel van Afrikane, ook die Afrikaanstaliges en Afrikaners onder hulle. En tot verdriet van almal, ook myself, wat die mense van Suid-Afrika veel beter gun.

Nuwe ligpunte

My advies aan alle Afrikaanstaliges is nou om sover moontlik te help bou aan ander opvoedingsinstellings waar akademiese vryheid weer eendag in Afrikaans kan blom, soos Akademia.

Vir van hulle sal dit nie moontlik wees nie. Maar in een van daardie ironieë van die geskiedenis sal juis die “Vrystaat” in die naam Universiteit van die Vrystaat mense bly herinner aan vryheidsidees wat bestaan.

Ook dít is deel van die geskiedenis van Afrika, en veral van die geskiedenis van die Vrystaat: mense wie se individuele, akademiese, kulturele of ander vorme van vryheid afgeskaal of misken word, sal dit elders weer gestalte gee. Soms selfs beter.

Groete

Heinrich Matthee

 

Foto: Het taalmonument voor het Afrikaans in Paarl  (c) www.sa-venues.com

 

Doorbraak publiceert graag en regelmatig artikels die door externe auteurs worden aangebracht. Deze auteurs schrijven uiteraard in eigen naam en onder eigen verantwoordelijkheid.

Commentaren en reacties